Interrex

Simbool van Interrex

Die interrex (meervoud: interreges) was 'n buitengewone magistraat tydens die Romeinse Koninkryk en -Republiek. Die interrex is aanvanklik aangestel na die afsterwe van die koning van Rome tot die verkiesing van sy opvolger, vandaar die naam van die amp—'n heerser "tussen konings" (Latyns inter reges). Die amp is behou gedurende die Republiek indien dit vir beide konsuls onmoontlik was om hul pligte te vervul, veral tydens verkiesings. Interreges was vir slegs vyf dae aan bewind, wat dikwels daartoe gelei het dat verskeie van hulle opeenvolgend verkies is, met 'n rekord getal van 15 interreges in 326 v.C. Hulle is slegs gekies uit die patrisiërklas van die Romeinse senators, en gedurende die Konflik van die Ordes of die Stryd van die Ordes[1] het hul aanstelling somtyds ten doel gehad om die plebejers te verhinder om die mag te bekom of wette deur te voer.

Soos met die diktatuur, is die amp van interreges grotendeels toegepas tot die tyd van die Tweede Puniese Oorlog. Die amp het slegs in 82 v.C. herleef sodat Sulla sodoende diktator kon word, en tussen 55 en 52 v.C., toe Pompeius die Romeinse Grondwet tot sy eie voordeel misbruik het.

  1. Die Konflik van die Ordes, ook bekend as die Stryd van die Ordes, was 'n politieke stryd tussen die plebejers (gewone burgers) en patrisiërs (aristokrate) van die antieke Romeinse Republiek, wat geduur het van 500 v.C. tot 287 v.C. Hiertydens het die plebejers betoog vir politieke gelykheid met die patrisiërs. Dit het 'n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die Grondwet van die Romeinse Republiek. Kort na die stigting van die Republiek het hierdie konflik daartoe gelei dat die plebejers Rome verlaat het en hulle afgesonder het deur na die Heilige Berg te gaan in tye van oorlog. Die resultaat van hierdie eerste afsondering of afskeiding van Rome was die skepping van die amp van die plebejerstribuun, en daarmee saam die eerste verkryging van werklike mag deur die plebejers.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search